Falcon praat nie strooi by Balfour hooibaaldag

  • 29 January 2025
  • 23
  •  
  •  
  •  



ZA-TS 4200-strooier

Die Amazone ZA-TS 4200-strooier is tegnologies gevorderd en ontwerp vir presisiestrooi.

Die hoogtepunt van Falcon se demonstrasies vir die dag was hulle vlagskip ZA-TS 4200-strooier. Die strooier se tegnologie verseker dat jy presies strooi, en hy maak self aanpassings volgens die omgewing.

Mauritz van der Heever, streeksverkoopbestuurder vir Falcon en Amazone in die Mpumalanga gebiedvertel dat die strooier in drie groottes beskikbaar is: 2 200, 3 200 en 4 200 liter. Die 2 200- en 4 200-liter strooiers kan ook met verlengings vergroot word.

“Die 4 200 liter kan met ‘n 800 liter verlenging vergroot word, wat hom dan ‘n 5 000 liter maak met ‘n vrag van 4 500 kg,” verduidelik Mauritz.

Die ZA-TS-reeks is ‘n hidroulies aangedrewe en ten volle presisie implement. Die strooiers is ook toegerus met ‘n windbeheerstelsel wat die wind van enige kant af meet en dan die nodige verstellings aan die strooiskyf maak.

Hy is toegepas met ArgusTwin-tegnologie: 14 kameras om die strooiskyf bepaal die uitgangshoek en maak dan self verstellings vir die regte sywaartse verspreiding.

Die ZA-TS-reeks bevat Amazone se AutoTS-grensstelsel wat presisiestrooi verseker en vermorsing uitskakel.

Hierdie strooiers is as standaard vir 1 jaar gewaarborg met ‘n verlengde waarborg van 1 jaar, terwyl die tenk vir 7 jaar teen perforasie gewaarborg is.

F210T Tilt Flail Mower

Met Falcon se F210T Tilt Flail Mower kan jy teen afwaartse en opwaartse hellings sny.

Die nuutste toevoeging tot Falcon se snyerreeks is die F210T Tilt Flail Mower wat ‘n snywydte van 2,1 m het.

“Wat die snyer so uniek maak. is dat hy ‘n hidrouliese kantelfunksie het. Dit beteken hy kan op afwaartse hellings tot en met 65º sny asook opwaartse vertikale hellings,” verduidelik Mauritz.

Die F210T Tilt Flail Mower het ook ‘h hidrouliese verskuiwingsfunksie wat jou die vermoë gee om tot 2,6 m van die middelpunt van die trekker af te sny.

Mauritz vertel dat die F210T Tilt Flail Mower ideaal is vir weiding, boordinstandhouding, bosverwydering, om paaie, waterweë en damme oop te sny asook die afsny van mielie- en koringreste.

Hy is toegerus met lemme en hamertjies afhangende van die gebruik van die implement.

F80/180EV Hooimaker®

Die Falcon F80/180EV Hooimaker® wat aan die linkerkant vergroot is vir ‘n skoner snit.

Die F80/180EV Hooimaker® van Falcon is 1,8 m breed, maar is ook in ‘n breedte  van 1,5 m beskikbaar.

Die EV staan vir extended veldcutter (verlengde veldsnyer) omdat hy aan die linkerkant met 300 mm vergroot is. Hierdie verandering bring mee dat die hooi-implement ‘n dubbelsnit vermy om ‘n skoner enkelsnit te maak en beter windry te vorm.

Die F80-180 EV het ook Falcon se unieke lembalk en twee hooimasjienlemme en ‘n F80-ratkas wat plaaslik vervaardig word en ‘n standaard-waarborg van drie jaar het.

F30/350VT Hooimaker®

Met twee F60 ratkaste en optellemme, verseker die Falcon F30/350VT Hooimaker® dat die eerste snit perfek is.

Die F30/350VT Hooimaker®  is Falcon se sleepmodel, asook hulle grootste en breedste. Die hooi-implement se dubblespil en twee F60-ratkaste sorg vir ‘n snywydte van 3,5 m.

Hierdie implement het ook Falcon se unieke lembalk en dan twee optellemme wat ‘n vakuum vorm en die materiaal oplig sodat ‘n skoner enkelsnit gemaak kan word, dus word daar ook ‘n skoner windry gevorm.

Met die nuutste hoogteverstellingsopgradering is dit nou baie makliker om jou snyhoogte te stel. Die hoogteverstelling gee die hooi-implement die vermoë om tussen 50 en 250 mm te sny.

F2250 Bale grab

Hooibale maak is een ding, maar om hulle te skuif is ‘n ander een. Mauritz sê dat jy nie ‘n beter manier kry om groot bale te hanteer as Falcon se F2250 hidrouliese baalgryper nie.

Met ‘n hoogte van 2,1 m tussen die onderste en die boonste tande, kan die gryper drie rondebale van 750 kg met een hap gryp. Die F2250 het ‘n laaikapasiteit van 2 250 kg en kan op JCB, Wacker Neuson en verskeie ander telehanteerders gebruik word.

F750 Uniloader

Wanneer jy massas materiaal wil hanteer, sal die Falcon F750 hidrouliese Uniloader die werk in ‘n japtrap doen.

Die F750 Uniloader het ‘n kapasiteit van 750 kg en kan tot ‘n hoogte van 3,4 m optel. Die implement kom met baalvurke, ‘n draaihaak en ‘n massasakkruis.

*Geskryf deur Natasha Pretorius, ProAgri






Related Articles